Major League Baseball

Die kenteken van Major League Baseball

Major League Baseball (MLB) is 'n professionele bofballiga en die hoogste vlak van georganiseerde bofbal in die Verenigde State en die wêreld. Dit is een van die groot vier professionele sportligas in die Verenigde State en Kanada (die ander drie is die NFL (Amerikaanse voetbal), NHL (yshokkie) en die NBA (basketbal) ). Die MLB bestaan uit 30 mededingende klubs of franchises, wat gelykop verdeel is tussen die Amerikaanse liga (AL) en die Nasionale liga (NL), met 15 spanne elk. Daar is 29 spanne in die Verenigde State, met een span (die Toronto Blue Jays), wat in Kanada gebaseer is. Die NL en die AL, wat in respektiewelik 1876 en 1901 gestig is, het begin saamwerk in 1903 met die Nasionale Ooreenkoms, wat MLB die oudste bekende professionele sportsliga in die wêreld maak. Die NL en die AL was tot 2000 aparte regsentiteite, toe hulle geamalgameer is in een organisasie wat gelei word deur die Kommmissaris van bofbal.[1] MLB se hoofkwarier is geleë in Manhattan, New York.

Die Cincinnati Red Stockings, wat in 1869 gestig is, was die eerste volslae professionele bofbalspan. Die eerste paar dekades van professionele bofbal is gekenmerk deur mededinging tussen die twee ligas, met spelers het gereeld van een span of liga na 'n ander span of liga gespring het. Hierdie praktyke is uiteindelik grootliks gestop deur die Nasionale Ooreenkoms van 1903, waarin die AL en die NL ooreengekom het om mekaar se spelerskontrakte te respekteer, insluitende die berugte "reserwe klousule" [2]

Die periode voor 1920 staan bekend as die "dead-ball era" omdat "home runs" (Afr: tuislopie[s]) selde geslaan is. Professionele bofbal is getref deur die "Black Sox-skandaal", 'n sameswering om die wenner van 1919 Wêreldreeks by wyse van wedstrydknoeiery te bepaal. Bofbal het gelukkig die skandaal oorleef, alhoewel met groot veranderinge in die beheer van die spel toe die relatief swak Nasionale kommissie vervang is met die kragtige Kommissaris van bofbal wat byna onbeperkte gesag oor die sport kon uitoefen.

MLB het in die dekade ná die Black Sox-skandaal in gewildheid toegeneem, en anders as groot ligas in ander sportsoorte het dit die Groot Depressie en Tweede Wêreldoorlog verduur sonder dat enige van sy spanne gevou het. Kort na die oorlog het Jackie Robinson bofbal se kleurgrens verbreek.

Die AL en NL het in die 1950's en 1960's klubs bygevoeg en sommige het na ander stede verskuif. Spelers se ontevredenheid met gevestigde arbeidspraktyke, veral die reserweklousule, het gelei tot die organisasie van die "Major League Baseball Players Association" om kollektief te beding met die eienaars, wat weer gelei het tot die bekendstelling van "vry agentskap" in bofbal.

Moderne stadions met kunsmatige-grasoppervlaktes het die spel in die 1970's en 1980's begin verander. Tuislopies het die spel gedurende die 1990's oorheers. In die middel 2000's het mediaberigte die gebruik van anaboliese steroïde onder MLB-spelers bekend gemaak; 'n 2006–07-ondersoek het die Mitchell-verslag opgelewer, wat bevind het dat baie spelers steroïede en ander prestasieverbeterende middels gebruik het, met ten minste een speler uit elke span wat hom hieraan skuldig gemaak het.

Elke span speel 162 wedstryde per seisoen, met "openingsdag" wat tradisioneel gedurende die eerste week van April gehou word. Ses spanne uit elke liga dring dan deur na 'n vier-ronde naseisoen toernooi in Oktober, wat uitloop op die Wêreldreeks, 'n beste-van-sewe kampioenskapsreeks tussen die twee ligakampioene wat die eerste keer in 1903 gespeel is. Die New York Yankees het die meeste kampioenskappe met 27 titels. Die heersende kampioene is die Texas Rangers, wat die Arizona Diamondbacks tydens die 2023 Wêreldreeks verslaan het.

MLB is die naasrykste professionele sportliga volgens inkomste ná die National Football League (NFL).[3][4][5] Bofbalwedstryde word regdeur Noord-Amerika en in verskeie ander lande uitgesaai deur middel van televisie en radio, en word ook gestroom deur stromingsdienste op die internet. MLB spog met die hoogste totale bywoningssyfer ter wêreld; in 2018 het meer as 69.6 miljoen toeskouers wedstryde bygewoon.[6]

Minor League Baseball val ook onder die oorkoepelende sambreel van MLB. Dit bestaan uit laer-vlak spanne wat geaffilieer is met die MLB-klubs. MLB en die Wêreld-bofbal-sagtebalkonfederasie bestuur gesamentlik die internasionale World Baseball Classic toernooi.

  1. Chass, Murray (16 September 1999). "BASEBALL; League Presidents Out As Baseball Centralizes". The New York Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Junie 2018. Besoek op 29 Mei 2018.
  2. In Noord-Amerikaanse sport was die reserweklousule 'n deel van 'n spelerskontrak wat bepaal het dat die regte op spelers deur die span behou word met die kontrak se verstryking. Spelers onder hierdie kontrakte was nie vry om nog 'n kontrak met 'n ander span aan te gaan nie. Sodra 'n kontrak onderteken is, kon spelers, volgens die span se diskresie, heraangewys, verhandel, verkoop of vrygelaat word. Die enigste onderhandelingstaktiek vir die meeste spelers was om uit te hou tydens kontraktyd en om te weier om te speel tensy hul voorwaardes nagekom is. Spelers was verplig om 'n nuwe kontrak te onderhandel om nog 'n jaar vir dieselfde span te speel of om te vra om vrygelaat of verhandel te word. Hulle het geen vryheid gehad om van spanne te verander tensy hulle 'n onvoorwaardelike vrylating gegee is nie. In die dae van die reserweklousule was dit die enigste manier waarop 'n speler 'n vrye agent kon wees.
  3. Young, Jabari (22 Desember 2019). "Major League Baseball revenue for 2019 season hits a record $10.7 billion". CNBC. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Junie 2020. Besoek op 18 Junie 2020.
  4. "11 Most Profitable Sports Leagues – Their Value Will Surprise You – Athletic Panda Sports Editors". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Junie 2020.
  5. "www.sap.com" (PDF). Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 25 Junie 2020.
  6. Brown, Maury (3 Oktober 2018). "Why MLB Attendance Dropped Below 70 Million For The First Time In 15 Years". Forbes. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Oktober 2018. Besoek op 19 April 2016.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne